Duitsland

Duitsland (Duits: Deutschland, [ˈdɔʏtʃlant], ), amptelik die Bondsrepubliek Duitsland (in Afrikaans dikwels ook Federale Republiek Duitsland genoem; Duits: Bundesrepublik Deutschland, [ˈbundəsʁepuˌbliːk ˈdɔjtʃlant], ), is in die sentrum van Europa geleë en vervul in baie opsigte 'n brugfunksie tussen Wes-Europa en die lande van Sentraal- en Oos-Europa. Die land word in die noorde begrens deur die Noordsee, Denemarke en die Oossee, in die ooste deur Pole en Tsjeggië, in die suide deur Oostenryk en Switserland, en in die weste deur Frankryk, Luxemburg, België en Nederland. Geen ander land in die Europese Unie het meer buurlande as Duitsland nie. As 'n geografies uiteenlopende land het Duitsland 'n groot verskeidenheid landskappe wat van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee en die uitgestrekte vlaktes van Noord-Duitsland oor die berglandskappe van Sentraal- en Suid-Duitsland tot die Alpe in die uiterste suide strek. Vyf groot rivierstelsels – dié van Ryn, Donau, Elbe, Main en Weser – kom in die land voor en word deur kanale met mekaar en die Europese netwerk van waterweë verbind. Die Duitse Keiserryk is as 'n nasiestaat verenig tydens die Frans-Duitse Oorlog in 1871. Die huidige Duitsland is 'n demokratiese, parlementêre en federale republiek wat uit 16 deelstate bestaan. Die deelstate kan in sekere sfere, soos onderwys, onafhanklik van die federasie optree. Duitsland is, net soos baie ander Europese lande, 'n sosiale welvaartstaat, wat in sy binnelandse ekonomiese beleid die beginsels van 'n sosiale markekonomie toepas, en ook een van die liberaalste lande ter wêreld waar groot waarde aan omgewingsbewaring en die bestryding van xenofobie geheg word. Nogtans weeg behoudende waardes steeds swaar in Duitsland wat vanweë sy ryk kulturele, filosofiese en literêre erfenis ook as die "land van digters en denkers" bekendstaan. Ou tradisies word met trots bewaar en gewaardeer, net soos harde werk, juistheid en fiskale verantwoordelikheid. Die Bondsrepubliek Duitsland is 'n lid van die Verenigde Nasies, NAVO, die G8- en die G4-nasies, asook 'n stigterslid van die Europese Unie. Duitsland, wat sedert die 1990's meer as drie miljoen immigrante uit Oos-Europa ontvang het, het tans die grootste bevolking van enige EU-lidstaat. As een van die wêreld se voorste nywerheidslande, wat hom op meganiese ingenieurswese en masjienbou, voertuie, chemiese produkte en huishoudelike goedere toespits, is Duitsland die grootste ekonomie in Europa en die vierde grootste ter wêreld. Sy ekonomiese en politieke gewig stel die land in staat om sy beleid van fiskale soberheid ook op Europese vlak toe te pas.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search